Vir
die bergfietsryer – van die fiksheidsfraat tot die gewone
besoeker – is dit moontlik om die veldpaadjies en menige rantjies op
die plaas te verken. Meer as 60 km van die pragtigste veldtonele is
te sien. Fietse is op die plaas beskikbaar.
Daar
is ook 8km-, 18km- en 45-kilometerroetes vir vierwielmotorfietse
Sterrekyk kom net in die Karoo waarlik tot sy reg! Te danke aan
baie min kunsmatige lig en geen lugbesoedeling in die omgewing nie,
bied ons gastehuis die perfekte geleentheid om te leer van die seë
op die maan, verskeie konstellasies, hemelpatrone en die sterre in
die algemeen. Met ons 114mm-Newton-weerkaatsingteleskoop op die
plaas, het die hemelruim vir ons maar min geheime! Kom besigtig die
Skerpioen in September tot die Suiderkruis in die hart van die
Melkweg in die winter!
Argeologie. Die Karoo is bekend vir sy rots- en
fossielgesteentes en ons plaas is geen uitsondering nie. Daar is
binne loopafstand van die gastehuis goeie sedimentêre gesteentes,
harde- en lae rotsgesteentes waar die amateur argeoloog en die
fossielversamelaar na hartelus kan verken.
Perdry.
Perde word meestal op die plaas gebruik om skaap aan te keer en
besoekers is welkom om soggens die herders met hierdie taak te help.
Die plaas beskik oor meer as 60 km paaie wat met perde verken kan
word of gebruik kan word om piekniek in die veld te gaan hou.
Wildbesigtiging
kan gedoen word vanaf die omgewing van die gastehuis wat uitkyk oor
die hoofkamp van die 1 000 ha, langs die staproete of deur die
georganiseerde wildrit. Elf inheemse spesies (eland, rooihartbees,
springbok, blesbok, gemsbok, swartspringbok, wit blesbok,
blouwildebees, volstruis, rooibok en bergrietbok) word op die plaas
aangetref en die wakker kyker sal selfs van die kleiner en skamer
diere raaksien.
 |